Wenke om jou kind te leer om beter met hul geld te werk
Deur: Wouter Fourie – 2015/16 FPI finansiële beplanner van die jaar.
Huisgenoot.com, Desember 28, 2016
Ons erf meer as net ons groot ore of temperament van ons ouers; in die meeste gevalle leer ons ook hul slegte geldgewoontes aan en dra dit lewenslank met ons saam.
’n Studie van ekonomiese gedragspatrone bevestig die manier waarop ons met geld werk, is meestal in ons kinderjare aangeleer en gewoonlik onbewustelik. Ons leer dit dus deur na ons ouers te kyk.
Ongelukkig is daar op skoolvlak min fokus oor hoe om met geld te werk. Gevolglik val jy terug op jou aangeleerde finansiële gewoontes wanneer jy die dag jou eerste salaristjek ontvang.
Hier is ’n paar idees om jou kind te leer om beter met hul geld te werk:
-
Geld vir niks
As ons kinders alles op ’n skinkbord ontvang, sal hulle as volwassenes meer vatbaar wees vir die bemarkingsbeloftes van kredietkaarte en winkelkaarte se skynbaar kostelose skuld.
Stel ’n lys op van takies wat kinders kan verrig om geld te verdien, met ’n waarde gekoppel aan elk. Die geld wat hierdie takies inbring, kan jou kinders se sakgeld vervang of aanvul. Sit die lys van takies op die yskas en laat die kinders toe om hul name langs die take in te vul.
-
Stel ’n begroting op
Dit is sekerlik een van die belangrikste geldlesse wat jy jou kind kan leer. Nooi jou kind om by te sit wanneer jy jou begroting beplan en verwys terug na jou begroting wanneer jy geld uitgee.
Sit dan saam met jou kind en beplan hul begroting, met moontlike kategorieë vir maandelikse of gereelde uitgawes, spaar en skenkings.
-
Leer om te deel
Soms, as onverwagte nadraai van die eerste twee stappe, kan ’n kind te geheg raak aan sy of haar geld. Dit is immers lekker om te sien hoe jou spaarvarkie vol word en dit raak moeilik om jou grassnygeld weer uit te gee of om enigiets wat jy met jou swaar verdiende geld gekoop het, met jou vriende te deel.
Oorweeg die tradisionele reël wat ons in finansiële beplanning vir kinders gebruik: Spaar 50 persent, bestee 40 persent en gee 10 persent aan behoeftige sake of jou kerk. Jy kan doelwitte aan jou spaargeld verbind – soos daardie Xbox wat jou seun soek – en jy kan met jou kind gesels oor hoe hul skenking van 10 persent ’n verskil in iemand se lewe gaan maak.
-
Nie alle verantwoordelikhede moet ’n geldwaarde hê nie
Dit is belangrik om kinders verantwoordelikheid te leer as teenwig vir die gevaar dat alles later om geld draai. Sekere take, soos om hul bed op te maak of klere weg te pak, kan verpligtend wees, wat verhoed dat jou kinders ’n beloning vir elke werkie of opoffering verwag.
Om seker te maak dat hierdie lewensles gaan werk, moet jy jou verwagtings met jou kinders bespreek. Verduidelik waarom dit belangrik is dat hulle sekere take sonder klagtes of verwagtings verrig en hoe julle op die lange duur daarby kan baat vind.
-
Nee beteken nee
Ja, dis maklik om hierdie voorskrif te gee, maar ek is nie in die kamer wanneer jou kind stilstuipe of ’n woedeuitbarsting kry nie.
In ons navorsing oor finansiële gedragspatrone het ons gevind ons swak geldbesluite as volwassenes het dikwels hul oorsprong in die feit dat ons as kinders nie duidelike grense gehad het nie. Die kind wat nie gespaar het vir sy 10 persent-bydrae vir sy Xbox nie, is later die volwassene wat ’n stel gholfstokke op sy kredietkaart koop en op 35 nog nie ’n spaarfonds opgebou het nie.
Stel duidelike grense, deel jou verwagtings met jou kinders, leer hulle beplan en verantwoordelik bestee en beloon hulle vir harde werk en hulle sal die vrugte pluk as geldslim en onafhanklike volwassenes.[spacer height="20px"]
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/geldsake/wenke-om-jou-kind-te-leer-om-beter-met-hul-geld-te-werk/[spacer height="20px"]
Related topics:
https://ascor.co.za/investment-christmas-present/
https://ascor.co.za/bad-financial-habits-parents-teach-children-16sept2015/
https://ascor.co.za/happy-kids-healthy-budget/
Please follow and like us: