Pakket gekry?
Haal asem, kry raad en hou jou beursie styf vas
Deur Wouter Fourie (CFP®) en direkteur van Ascor® Independent Wealth Managers
Dokters, finansiële adviseurs en vir sommige van ons, voertuigtegnici.
In al hierdie gevalle is jy gewoonlik op die agtervoet en weet jy heelwat minder as hulle oor hul spesialisveld. Dit beteken dat jy dikwels boedel oorgee en bloot aanvaar wat hulle sê, of in die ander uiterste geval, jou wend tot advies van jou vriende of Google.
Laasgenoemde opsie – om jou swaer, gim-maat of Google te vra – is veral gewild onder mense wat ’n afleggingspakket gekry het.
In so ’n geval het jy skielik ’n groot klomp geld en jou kop wemel van die vrae, soos: Moet ek die geld belê? Indien wel, waar? Kan ek dit gebruik om ’n onderneming te begin of my skuld te delg?
’n Finansiële adviseur sal jou kan help om die vrae te beantwoord, maar jy is bekommerd dat hy jou ’n kat in die sak kan verkoop of jou verkeerde raad sal gee, iets wat jy eers jare later sal besef.
Voor jy begin spoke opjaag oor verkeerde besluite, is dit uiters belangrik om eers voor jou eie deur te vee. Navorsing toon dat mense geneig is om simpel besluite te neem en geld te mors wanneer hul baie geld in hul rekening het of weet dat hulle binnekort baie geld te wagte kan wees.
Om dit te verhoed, moet jy jou geldgewoontes dadelik aanpas. Sny so veel moontlik vet uit jou begroting, en as jy nog nie een het nie, maak seker jy stel ’n begroting op. Hou jou leefwyse so eenvoudig moontlik terwyl jy soek na ander werk of besluit om jou geld te belê; dit sal jou baie toekomstige bekommernis spaar.
Die tweede stap is, soos jy kan dink, om goeie, onafhanklike finansiële advies te bekom. Die FPI (fpi.co.za) is die enigste erkende professionele instituut vir finansiële beplanners in Suid-Afrika en hul lede voldoen aan streng kwalifikasie-vereistes, voortgesette opleiding en is ook onderworpe aan streng etiese en beroepsgedragskodes.
Die FPI voorsien ook die CFP-titel aan adviseurs wat ’n nagraadse kwalifikasie het en die raadseksamen geslaag het. Die titel CFP (Certified Financial Planner) skei die kaf van die koring en word in meer as 26 lande erken.
Maak seker jy kry iemand wat ’n CFP-titel het. Die heel beste is as hulle ook onafhanklik is, en verkieslik iemand wat geld vir sy advies vra, want dan is jy seker die persoon verkoop advies en nie ’n produk (wat in die meeste gevalle oorbodig is) waarop hy of sy ’n vet kommissie verdien nie.
Met die regte CFP finansiële adviseur aan jou kant, kan jy rustig besluit wat om met jou neseier te maak. Julle moet saam besluit wat jou langtermyndoelwitte is voor julle besluit wat om met die geld te doen.
As jy gemaklik wil aftree, gaan jy byvoorbeeld baie meer konserwatief wees as wanneer jy nog jonk is en ander planne vir jou kapitaal het. Met die regte onafhanklike raadgewer kan jy ook na ander opsies vir jou geld kyk en boonop seker maak jy verwed nie al jou geld op een perd nie.
Verwante artikels:
https://ascor.co.za/what-it-takes-to-run-a-successful-adviser-firm-in-south-africa/
https://ascor.co.za/ascor-crowned-best-independent-financial-advisor/
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/geldsake/pakket-gekry-asem-kry-raad-en-hou-jou-beursie-styf-vas/
Please follow and like us: